Fisiese, Psigiese en Sosiale Ontwikkeling en Vryetydbesteding

Joanita Smit

Joanita Smit

Biokinetikus

Individueel uitgewerkte oefenprogramme word deur ‘n geregistreerde biokinetikus, uitgewerk en vordering word tweeweekliks gemonitor. Oefening vind in die pragtige natuur plaas met vars lug. 
Fisiese ontwikkelling gaan dus oor progressie teen ‘n haalbare tempo waar elke student volgens  hul eie vermoens en slegs teen hulself kompeteer en nie teen ander gemeet word nie. Sodoende word die grondslag vir ‘n aktiewe en gesonde lewenstyl vasgele.

 

 

Gerhard van Zyl

Gerhard van Zyl

Professionele Beroepsleidingkundige

Kwaliteit een-tot-een beroepsleiding deur een van die voorste beroepsleidingkundiges in die land fokus om beroep en roeping te verenig. Die praktiese blootstelling aan die werklikhede van meer as 40 beroepe asook blootstelling aan suksesvolle  entrepreneurs help jongmense geweldig baie om te weet wat hulle met hul lewe wil doen, asook die deursettingsvermoë om dit te voltooi. Selfs persone met goeie grade sukkel soms om werk in S.A. te kry.
Kreatiewe denke is nodig om vaardighede in geldwaarde om te skakel. Dus word studente blootgestel aan entrepreneurs soos Celliers Kruger van Vagabond Kajakke en Attie Koekemoer van Anatomic Sport Clothing om te leer hoe om geleenthede vir jouself te skep. 

 

Johan Potgieter & Marica Pienaar

Johan Potgieter & Marica Pienaar

Sielkundige en emosionele meting & ontwikkeling Prof Potgieter : Gereg. kliniese Sielkundige

Psigometriese toetsing sowel as ‘n kwartaallikse evaluering word deur geregistreerde sielkundiges  gedoen om persoonlike groei en  welstand te meet. Verder vind terugvoer deur aanbieders plaas asook tweeweeklikse portuurgroep evaluering. Sodoende leer elkeen op watter groeiareas om te fokus. Prof. Johan Potgieter is die S.A. verteenwoordiger op die Internasionale Eko-Avontuur Forum en tesame met Marica Pienaar lewer  hul intervensies baie goeie resultate. 

Melissa Lainn Wellness

Melissa Lainn Wellness

Geïntegreerde voedsel gesondheid & welstand afrigter

Melissa Lainn het ‘n passie om mense te help om die verband te besef tussen  gesonde eetgewoontes en totale welstand. Haar inspirerende  kursus en persoonlike aandag le die grondslag om goed te wees vir jouself en diegene om jou. Die duur is 3 maande waarin sy elke 2 weke persoonlik aanbiedings doen en saam met die studente aankope doen en  kosmaak.

Optimalisering

Die Natural leadership Initiative gebruik die krag van die natuurlike omgewing sowel as avontuur  om vrese te oorkom, innoverend te dink en ‘n ingesteldheid van “ontsluit die potensiaal van dit wat ek het” te vestig. Die delwers van ouds byvoorbeeld het dit gebruik wat voor die hand liggend is om te oorleef. Net soos hulle rooster studente ook die bessies van die Blinkblaar Wag-‘n-Bietjie en maak ‘n koffie deur dit te maal. 

Beginsels van veldoorlewing

Vuurmaak volgens die San metode, rigting bepaling volgens die son en sterre, eetbare plante asook die vleg van toue deur die gebruik van plantvesels dien as basis van oorlewing in die daaglikse werklikheid.

Sosiale Ontwikkeling

Sosiale vaardighede soos bv. om voor mense te praat word gestimuleer in ‘n beskermende omgewing.

Die ingesteldheid is om mekaar wedersyds op te bou om duidelik en samehangend te kommunikeer. Ander vaardighede soos konflikhantering word ontwikkel. So ook word gesonde debat oor verskeie onderwerpe aangemoedig  en die metodiek van logiese redenasie toegepas.

 Verder help ons met sportafrigting vir ‘n plaasskool in die omgewing, asook projekte bv. Droogtehulp aan boere.

Vryetydbesteding

Die pragtige rugbyveld word vir verskeie aktiwiteite soos rugbysewes, frisbee, sokker en blitskrieket gebruik. Die tafeltennis sorg vir groot opwinding. Hier is pragtige stap en bergfietsroetes asook puik vlieghengelwater vir veral kleinbek Geelvis. Diegene wat belangstel kan by ‘n bekende gids ‘n kursus doen om die kuns te bemeester.

Selfverdediging

Hand tot hand vegkuns word aangebied en gereeld opgeskerp om ‘n parate ingesteldheid te kweek. Die werklikheid van die situasie in ons land vereis voorbereidheid op alle vlakke.

 

Skeppingsleer

Ons bied ‘n alternatief op die evolusie teorie deur kritiese denke te stimuleer en jongmense te motiveer om analities te dink en logies samehangend te argumenteer.

Niks word afgedwing of eensydige stellings verkondig nie, wel om voor die hand liggende vrae te vra en nie iets te glo net omdat baie dit glo nie. Johan Smit is ‘n Geoloog en Geohidroloog wat die Geologie van die Aarde vanuit ‘n Skeppingsperspektief verduidelik.

 

Geestelike

Die Handboek van die Lewe, die Bybel, is die basis waarop ons alles  bou. Persoonlike stiltetyd asook aktuele onderwerpe soos Lewensdoel, verhoudings tussen ouens en meisies, seksualiteit en  wetenskap is van die sake waarop ons fokus.    

Elke student kry ‘n akker om te bewerk as rent meester om die “plant, en onderhou voor jy oes” beginsels vas te lê.

“Niks in die lewe wat die moeite werd is, is maklik     nie, dit bou karakter”

– Albie de Villiers